Maatband 7 Julie

Maatband is terug!

Moria 2Gesondheid- en skoonheidsbewuste kykNET-kykers sal bly wees om te hoor dat die die gewilde MAATBAND-reeks se agste seisoen vanaf Dinsdag 7 Julie 2015 uitgesaai gaan word. Die hoofuitsending is Dinsdae om 17:30 op kykNET (Kanaal 144) met verskeie herhalings op sowel kykNET as kykNET&kie (Kanaal 145). Die volledige lys van uitsaaitye kan op die tuisblad van Maatband se webwerf – www.maatband.com – gevind word.

In hierdie reeks ondergaan twee Maatband-kykers, ‘n Ma-en-dogterspan Meisie en Mercia, ‘n opwindende voorkomsverandering (‘makeover’). Oor ‘n tydperk van 13 weke ontvang hulle spesiale behandelings van Filorga, wat velskraping, ontgifting, ‘n gewigsverliesprogram en talle ander prosedures en kure insluit wat hulle teen die einde van die reeks viets en skraal gaan laat.

Daarbenewens maak hulle ook ‘n draai by die kosmetiese tandheelkundiges 12Smile, waar sowel ma as dogter ‘n blinknuwe glimlag sal kry.

Ons bekyk ook verskeie nuwe produkte van Sontal wat daarop gemik is om jou heel jaar deur fiks, skraal en gesond te hou.

Soos met die vorige reekse is daar nog vele meer vir ons lojale groep kykers om te geniet. Daar is onder meer ongewone maniere om fiks te word en te bly waarvan jy miskien nog nooit gehoor het nie, soos pilates-oefeninge vir liggaamskrag, SWEAT 1000 waarmee jy tot ‘n 1000 kalorieë per dag kan verbrand, en aerobiese tennis vir die sportiewes. Soos jy kan sien, is dit nou stroop, pot en stel op Maatband waar ons tegelykertyd jou polsslag gaan opjaag én jou gaan help om ‘n barshou te speel.

Ons wys jou boonop ‘n hele reeks heerlike smoothies vir ’n verskeidenheid gesondheidstoestande en deel noodhulpwenke vir daardie krisissituasies by die huis.

Ons weet ‘n groot gunsteling by ons kykers is mediese prosedures en toestande, waarvan sommige behandeling met NAALDE vereis!! Ons praat van wenkbrou-inplantings, die mediese gebruike van botox, chroniese moegheid, die styftrek van sakkerige vel en nog heelwat meer.

Soos gewoonlik beproef aanbieder Moria Sewald self van hierdie prosedures en sluit sy by die oefeningroetines aan om uit eie ervaring vir kykers ‘n eerlike mening te gee.

Maak dus van 7 Julie elke Dinsdag om halfses jou afspraak met Maatband op kykNET!

Author: Maatband

Share This Post On
468 ad