Reeks 5

Episode 8 – Donderdag 22 November 2012 om 17:30

Kom kyk hoe Dr Grove alles wat krom en skeef is in Izelle se mond, met ‘n tande makeover regmaak. Dis ongelooflik watter verskil ‘n skitterwit glimlag en reguit tande aan ‘n persoon se voorkoms kan doen.
Het jy ‘n blou Maandag elke dag van die week? Jy ly dalk aan depressie, ‘n kondisie wat al hoe meer mense raak en al hoe minder mense as ‘n ernstige probleem raaksien.
Met laser oogchirurgie is daar min mense wat nie gehelp kan word nie – dis ‘n wonderlike uitkoms vir sport geesdriftiges of diegene wat nie meer bril of kontaklense oral heen wil saam karwei nie.

Episode 7 – Donderdag 15 November 2012 om 17:30

Daar kom ‘n tyd in elke vrou se lewe wanneer gesigsplooitjies maar ‘n sensitiewe onderwerp begin raak. Met Filorga se Time Fillers kan jy die tyd op ‘n gesonde en effektiewe manier terugdraai.
As slaap jou ontwyk en jy lê heelnag skape en tel, dan is dit dalk tyd dat jy ‘n oplossing vir jou probleem moet begin soek. Slapeloosheid is ‘n kondisie waarmee menige mense vandag mee sukkel.
‘n Lae koolhidraat dieet is die nuwe gons woord onder diëte, maar wat presies behels so ‘n eetplan? Almal weet dat ‘n swanger vrou daardie spesiale gloed tydens haar swangerskap het. Met ‘n paar spesifieke grimeerwenke wys ons julle hoe om hierdie natuurlike sprankel net nog meer uit te bring!

Episode 6 – Donderdag 8 November 2012 om 17:30

Ontmoet ‘n bruid en ‘n bruidegom wat albei om verskillende redes op hul tande wou kners! Die resultate van sy bruid se mooimaak sessie met haar tande het daartoe gelei dat die bruidegom op die ou einde ook maar aangemeld het om sy tande eksieperfeksie te kry!
In deel 2 van Rhinoplasty bekyk ons die eindresultate van so ‘n operasie van nader. Nie alleen kan dit jou voorkoms dramaties verander nie, maar jou ook van allerande ander langdurige kwale genees!
Enige een met ‘n plat magie sal jou vertel dat al die pyn en lyding wat met maagoefeninge gepaard gaan, die moeite werd is. Met hierdie paar tegnieke lê ons dit net weer vas dat ‘n plat gespierde magie binne almal se bereik is.

Episode 5 – Donderdag 1 November 2012 om 17:30

Om tromme te slaan is nie net vir diegene met ritme beskore nie – dis ‘n prettige manier om in groepsveband saam te kan tokkel sonder dat jy hoef selfbewus te voel …. boonop kan jy op dié speelse manier ook van al jou stres ontslae raak en niemand beter om hierdie ervaring mee te maak as die lewenslustige Cordelia nie!
Enige iemand wat al ooit sy neus gekraak of gebreek het, sou jou kon vertel dat dit nie alleen ‘n blywende invloed op jou voorkoms het nie, maar dat daar ‘n magdom ander problem hieruit kan ontstaan. Ons gaan kyk hoe Rhinoplasty sommige van hierdie probleme kan oplos.
Daar word ‘n storm losgekook. Lae koolhidrate word met die regte bestanddele in ‘n vullende maaltyd omskep en die beste van alles is, geen smaak word in die proses ingeboet nie! Inteendeel, jy gaan jou lippe wil aflek!

Episode 4 – Donderdag 25 Oktober 2012 om 17:30

Wie was nie as klein kindjie bang vir die tandarts nie, of was jy opgewonde om te gaan net sodat jy daardie stokkielekker na die tyd in die hand kon hou? Ons kyk hoe jy kinders wat bang is vir die tandarts gereed kan kry vir “die stoel”.
Voor die skerms ken ons vir Lianie May as ‘n bondeltje energie, maar hoe ontspan sy na ‘n stresvolle dag en besige program? Moria gaan vind meer uit oor die alles-in-een PDT behandeling waaroor Lianie nie uitgepraat kan raak nie – dit raak van stres ontslae, laat haar goed voel en werk selfs op selluliet en dit alles in een behandeling! Te goed om waar te wees? Kom kyk vir jouself!
Jou bolyf het oefening nodig wat sal help om jou borste gesond en ferm te hou. Daar is ‘n hele paar oefenwenke wat maklik gevolg kan word om die gewensde resultate te verkry.

Episode 3 – Donderdag 18 Oktober 2012 om 17:30

Watter tipe vrou is jy ? In deel 2 van die “Female Curve” kyk ons verder na onsself en die res van die Eva geslag met behulp van Marianna van Niekerk se vroulikheidsskaal.
Wonder jy ook soms of bekendes net soos ons met dinge soos plooie, selluliet en grys hare sukkel? Dit lyk verseker nie so as ons na hulle kyk nie! Besit hulle spesiale maniere of rome om veroudering teen te werk? Moria gesels met Hanna Grobler en Mia (Jay se pragtige vrou) oor hul geheime hoe hulle dit regkry om hul jeugdige voorkoms te behou.
Een van die uitdagings wat baie jong vroue in die gesig staar, is die probleem om grimering reg aan te wend sodat dit ook gepas sal wees vir ‘n korporatiewe omgewing. Om bekwaam en professioneel te lyk is ongelooflik belangrik. Ons kry ‘n paar grimeerwenke vir die werksplek.

Episode 2 – Donderdag 11 Oktober 2012 om 17:30

Met al die verskillende rolle wat ons vrouens daagliks as ma’s, susters, eggenote en vriendinne moet vertolk, kom ’n mens net weer tot die besef dat elke vrou op ’n Godgegewe wyse spesiaal en uniek geskape is. Om ons vrouwees te vier, gesels Moria met Marianna van Niekerk oor die Vroulike Kurwe, wat met ’n opsomming vorendag gekom het waarin sy elke vrou volgens ’n vroulikheidsskaal in vyf groepe verdeel. Jy leer dalk net ietsie nuuts oor jouself of jou vriendinne!
Amy Kleinhans, voormalige Mej Suid-Afrika, het reeds ‘n pragtige wit glimlag sonder dat dit onnatuurlik lyk. Moria gaan vind by haar uit hoe sy die Bright Smile verwittingsbehandeling ervaar en hoe dit haar help om haar sprankelende glimlag in stand te hou.
Mooi gedefiniëerde arms bly darem maar mooi en met die regte oefeninge kan jy ook so ‘n paar bekom sonder om soos ‘n spierpaleis te lyk. Moria gaan kry ‘n paar oefenwenke om jou arms slaggereed vir die somer te kry.

Episode 1 – Donderdag 04 Oktober 2012 om 17:30

Ons trek soos ‘n pyl uit ‘n boog weg in die eerste episode van hierdie reeks wanneer Moria saam met Karlien van Jaarsveld haar hand aan boogskiet waag. Boogskiet is lankal nie meer net ’n sport vir mansmense nie, maar laat ek vinnig byvoeg, beslis ook nie vir sissies nie!
Pap bo-arms is ‘n oorlas waarmee baie vroue sukkel namate hulle ouer word. Nie alleen is dit moeilik om te verbloem nie, maar dit is ook moeilik om van hierdie onooglike probleem ontslae te raak. Moria gaan gesels met Dr Riekie oor moontlike behandelings hiervoor.
Grimering kan ‘n regte kopkrapper vir ‘n voornemende bruid wees. Dit moet sprankelend lyk in natuurlike lig, maar terselfdertyd nie blink as die kamera’s begin flits nie; dit moet vars en natuurlik lyk, maar steeds helder genoeg vir die foto’s wees. Vandag deel ons ‘n paar goue wenke vir jou groot dag.